Die relatiwiteit van emigrasie
As ʼn terapeut wat in die effek van emigrasie op families spesialiseer, word ek gedurig herinner aan die moontlikhede en uitdagings wat deur emigrasie teweeggebring word. Met die eerste oogopslag blyk emigrasie vanuit Suid-Afrika ‘n relatief eenvoudige en voor die hand liggende besluit te wees. By nadere ondersoek blyk dit dat emigrasie ‘n komplekse verskynsel is.
Soortgelyk is die eerste kyk na Relativity, ʼn litografiese drukwerk deur die Nederlander MC Escher, ‘n ietwat komplekse kunswerk, maar met die tweede kyk beleef die kyker dieselfde ontnugtering.[1]
[1] Voorhout, Lange. [n.d.]. About Escher [Online]. Available: https://www.escherinhetpaleis.nl/showpiece/relativity/?lang=en
Relativity word as verwysing gebruik in die ondersoek na die emosionele ervaring van emigrasie. Kuns word die medium waarmee ʼn realiteit soos emigrasie ontsluit word wat verder strek as wat enige rasionele denke ooit kan droom om te doen.
Die realiteit van Escher
In Escher se litografie van 1953 illustreer hy ‘n wêreld waar die normale wette van swaartekrag nie geld nie en versinnebeeld daardeur die onstabiliteit van die lewe in Europa ná die Tweede Wêreldoorlog met soveel mense wat uit hul land van geboorte ontwortel is.
Die komposisie van verskeie stelle trappe wat op verskillende horisontale en vertikale vlakke ontmoet is op só ʼn manier verweef dat dit met die eerste oogopslag sin maak. Dit blyk egter by nadere ondersoek ʼn stel illusies te wees wat in die werklikheid onmoontlik is, en die toeskouer verward laat.
Hierdie verwarring word versterk deur figure wat, alhoewel hulle dieselfde stel trappe op- en afklim en binne mekaar se gesigsveld paaie kruis, terselfdertyd onsigbaar vir mekaar blyk te wees. Dit konfronteer die kyker dus telkens met ‘n skynbaar onoplosbare raaisel. Só beskryf Escher in 1953 hierdie unieke kunswerk:
“Here we have three forces of gravity working perpendicularly to one another. Three earth-planes cut across each other at right angles, and human beings are living on each of them. It is possible for the inhabitants of different worlds to walk or sit or stand on the same floor, because they have differing conceptions of what is horizontal and what is vertical”.
Escher beskryf dus ‘n ongewone werklikheid waarin ʼn eindelose prosessie van gesiglose figure ʼn meganies-gedrewe wêreld bewoon. Hierdie onwerklike argitektoniese konstruksie wek ‘n onrusbarende gevoel by die kyker, en simboliseer die emosionele belewenis van emigrante en hul geliefdes wat agterbly. Hulle ervaar dat hul wêreld “ontkoppel” is – ‘n versinnebeelding van die emosionele belewenis van die transnasionale gesin.
Steeds ‘n gesin?
Emigrasie skep ‘n dubbelsinnige werklikheid wat die konvensionele definisie van ‘n gesin bevraagteken. In sy mees eenvoudige vorm bestaan ‘n gesin uit twee ouers en een of meer kinders wat dieselfde ruimte deel. Wanneer ‘n volwasse kind emigreer, word hulle wêreldburgers. Hulle laat hul geboorteland agter om elders ‘n nuwe tuiste te skep. Die dubbelsinnigheid lê daarin dat, as lede van ‘n gesin, hulle ‘n gemeenskaplike geskiedenis en ‘n onbekende toekoms met diegene in die geboorteland deel. Hierdie verwarrende nuwe realiteit word uitstekend in Escher se onmoontlike argitektoniese konstruksie vasgevang.
Net soos die figure in die litografie op oneindige stelle trappe by mekaar verby bly beweeg sonder om van mekaar bewus te wees, word transnasionale gesinne geografies van mekaar verwyder. Hulle leef in werklikheid in verskillende dimensies, verby mekaar, met ‘n gepaardgaande gevoel van isolasie.
In hierdie geïsoleerde wêreld maak die verskillende kulture en wêreldbeskouings dit nog moeiliker vir transnasionale gesinne om mekaar volledig te verstaan. Alhoewel hulle begeer om steeds deel van mekaar se wêrelde te wees, is die realiteit dat hulle in verskillende dimensies bestaan, in wêrelde met uiteenlopende belewenisse.
Jou wêreld en my wêreld
Elke gesinslid se belewenis van hul nuwe werklikheid is uniek. Dit is verder ‘n ’n voortdurende stryd om in mekaar se lewens betrokke te bly deur jou te probeer indink hoe laat dit in die verre land is en waarmee jou geliefdes hulleself tans besig hou. Hierdie gevoel van “uit fase wees” met jou geliefdes veroorsaak dat ervaringe as relatief beleef word en kan in ‘n raaisel ontaard.
Spontane kommunikasie word belemmer deur vrae soos: “Slaap hulle op die oomblik? Is dit nou familie-tyd of is hulle op reis?” Gesinslede moet dus noukeurig die volgende telefoonoproep of ander vorm van virtuele kommunikasie beplan. Diegene in Suid-Afrika mag wonder: “Sal ons met verloop van tyd van mekaar vervreem? Sal hulle uiteindelik van ons vergeet?” Ook die emigrant voel dalk uitgesluit as hulle familie-byeenkomste misloop.
Emigrante wat nuwe reise onderneem en verskillende uitdagings en geleenthede ervaar, se ervarings resoneer met dié van wat die geliefdes wat agterbly. Beide mag soortgelyke emosies ervaar, soos hoop, verlange of onsekerheid en kan dus in hulle verskillende dimensies empatie toon vir mekaar.
Hou my deel van jou wêreld
Ten spyte van die verwarrende omgewing, beweeg die figure in die kunswerk vorentoe om die “trappe” te navigeer en sinvol hul weg te vind. Hierdie veerkragtigheid weerspieël die vasberadenheid van emigrante om die emosionele uitdagings van emigrasie kreatief die hoof te bied.
Die verhouding tussen die emigrant en diegene wat in die land van herkoms agterbly, strek veel dieper as bloot die oppervlakkige en die fisiese. Die gedeelde geskiedenis van belewenisse en gemeenskaplike ervarings skep ‘n bekende ruimte waar die transnasionale gesin se verhoudings kan voortduur en verdiep, selfs oor ‘n afstand en tydsones heen.
Kuns as 'n visuele metafoor maak dit moontlik om sin te maak van die dubbelsinnige werklikheid wat deur emigrasie veroorsaak word, en om die kompleksiteite daarvan te verken, te interpreteer en te probeer verstaan.
Kuns het mos geen grense nie?
- Dr. Sulette Ferreira
Counselling Therapist | Family Mediator | Emigration Therapist